Verlede keer het ons na die eerste 5 punte op ons lys van top-10-dinge om te doen in Hartenbos gekyk. Hier is nog aktiwiteite vir besoekers om na uit te sien:
6) Restaurante om van te kus en te keur
Hartenbos en Mosselbaai bied ’n wye verskeidenheid wat restaurante betref, maar is veral bekend vir seekos – spesifiek die Tuinroete se wilde oesters. Die area bied verskeie kroeë, restaurante en koffiewinkels en het selfs ’n koffieroostery
7) Vir die wynliefhebbers

Jakkalsvlei is ongeveer 8,5km vanaf Herbertsdale in ’n pragtige vallei geleë. Hulle is bekend vir hul heerlike pizzas, bekroonde wyne, en asemrowende uitsigte.
Die ReedValley-wynplaas is in 2016 op een van die oudste plase in die area gestig. Hulle het ’n unieke Portugese inslag en bedien ook regte Portugese disse by hulle restaurant. Probeer hul “pastéis de nata” – ’n tradisionele vla-tertjie wat spesiaal van Portugal af ingevoer word!
8) Noot vir noot
ReedValley, wat slegs 8 km uit Mosselbaai geleë is, is ook die tuiste van die gewilde The Barn-teater wat al vir meer as 14 jaar Suid-Afrika se top-kunstenaars op hulle verhoog verwelkom. Hierdie venue is perfek vir ’n aand uit saam met vriende.
9) ’n Ryk geskiedenis
Die Bartolomeu Dias Museum-kompleks is bekend vir sy lewensgroot replika van die Dias-karveel. Dit is natuurlik ook die tuiste van die beroemde 500 jaar oue posboom.
10) Wildreservate

Die Tuinroete bied ’n paar van Suid-Afrika se beste wildreservate. Besoek Garden Route Game Lodge, Botlierskop, Gondwana, en Nyaru vir die dag en kyk hoeveel lede van die Groot 5 jý kan sien!