Met die jaar wat nou amper einde se kant toe staan en die Desembervakansie om die draai, het Hartenbos al begin vere regskud vir die instroming van duisende vakansiegangers. Maar waarom is hierdie dorp juis so ’n gewilde vakansiebestemming en wat bied dit deur die jaar vir diegene wat hulself permanent hier kom vestig? Hier is ’n lys van die top-10-dinge wat jy kan doen in Hartenbos.
1) Plaaslike markte
Die Hartenbos Boeremark vind op elke tweede en laaste Saterdag van die maand plaas. Met meer as 80 stalletjies, vriendelike mense, en lekker musiek is dit ’n heerlike plek om jou Saterdagoggend te spandeer. Op Sondae is daar ook die Mosselbaai Familieplaasmark. Hierdie mark het ’n lekker speelarea en ook ’n aanraakdieretuin wat dit baie gewild onder die kleinspan maak.
2) Winkelsentrums

Die ATKV se nuwe Hartenbos Seefront bied verskeie restaurante en winkels asook ’n waterpark, yskaatsbaan en mini-gholfbaan. Ander groot winkelsentrums in die area sluit in die Langeberg Mall en Mosselbaai Mall wat winkels van Suid-Afrika se bekendste kleinhandelaars bied.
3) Son, see en saffier
Die Mosselbaai-area spog met 4 blouvlagstrande waarvan Hartenbos se strand een is. Met meer as 60 km se strande is daar baie plek vir visvang, swem, sonbaai en sommer net ure se lekker stap.
4) Aktief en gesond

Volg jy ’n aktiewe leefstyl? In Hartenbos sal jy nooit verveeld raak nie! Elke Saterdagoggend kan jy saam met ander drawwers (stappers ook welkom) deelneem aan die Hartenbos Parkrun. Dis heeltemal gratis en ’n lekker manier om lede van jou gemeenskap te leer ken. Vir stappers is daar die gewilde 13,5 km St. Blaize-staproete wat strek vanaf die Cape St. Blaize-vuurtoring tot Danabaai.
Gholfspelers kan kies tussen die Mosselbaai gholfbaan en die bekende Pinnacle Point-gholfbaan. Darren Clarke, wat ook betrokke was by Pinnacle Point se baanontwerp, het gesê dat Pinnacle Point, “die beste gholfbaan op die planeet is.”
5) Point of Human Origins
Die Pinnacle Point-grotte naby Mosselbaai is een van die bekendste toeristeaantreklikhede in die area. Paleo-antropologiese vondse wat in hierdie grotte gemaak is het bewys dat mense sowat 164 000 jaar gelede, seebronne by Pinnacle Point benut het om te oorleef. Die grotte word bestudeer as deel van ’n argeologiese navrosingsprojek, SACP4, en toere word op sekere dae aangebied met die argeoloog dr. Peter Nilssen as toerleier.