Met die vreeslike winde wat ons in Junie-maand beleef het is Karookraal se kenmerkende windpomp ongelukkig beskadig. Ons is egter baie bly om te sê dat ons nou ’n nuwe draaiende windpomp het wat selfs beter en hoër as die oorspronklike een is!
Maar waar staan ons met die bou van die eerste huise? Stadler & Swart Prokureurs het onlangs die kapitale bydraes op die eerste erwe wat verkoop is en wat oorgedra kan word, van Mosselbaai Munisipaliteit ontvang. Die ontwikkelaar sal hierdie gelde, wat primêr vir grootmaatdienste is, binne die volgende week betaal, wat dan ook die oordragsproses sal afskop.
Die tersaaklike dokumentasie is reeds deur die kopers by die prokureurs onderteken en almal is in die wegspringblokke om die eerste erwe vir registrasie by die aktekantoor in te dien. Ons vertrou dat die eerste erwe teen einde September 2017 op hul nuwe eienaars se name geregistreer sal wees.
Daar word tans ook hard gespook om die eerste huise op tender te kry sodat die langverwagte bouwerk in Oktober kan afskop. As alles volgens plan verloop sal die eerste eienaars dan teen April 2018 die sleutels van hul nuwe huise ontvang. Teen hierdie tyd sal die ontwikkelaar ook die eerste huiseienaarsvereniging in plek hê om die nuwe dorp te begin bestuur en administreer.
Nog groot nuus is dat ons ook die koopkontrak aangepas het om die bouproses meer deursigtig te maak. Hierdie nuwe kontrak is tot elke koper se voordeel en maak die hele proses ook baie makliker!